Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 05 APRIL 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

WAT HET VAN DIE SONVLEKKE GEWORD?

PRESIDENTSNET VANAAND OM 19:30

STEEDS GEEN UITBREIDINGS AAN DIE 7 MHz-BAND

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.


Die sonvleksiklus gedra hom tot ‘n mate soos die aandelemark. Net wanneer dit lyk asof die laagtepunt bereik is, gaan dit nog laer! 2008 was ‘n beer. Gedurende 266 van sy 366 dae is geen sonvlekke waargeneem nie. Om ‘n jaar met minder sonvlekke te vind, moet al die pad tot 1913 teruggegaan word toe daar 311 vleklose dae was. Met hierdie getalle in hul gedagtes meen verskeie waarnemers dat die sonvleksiklus sy laagtepunt in 2008 bereik het. Miskien nie!
Sonvlektellings vir 2009 het steeds laer gedaal. Teen 31 Maart was daar geen sonvlekke op 78 van die jaar se eerste 90 dae nie. Dit alles lei tot een onvermydelike gevolgtrekking: “Ons ondervind ‘n baie diep sonvlekminimum”, so sê sonfisikus Dean Pesnell van die Goddard Ruimtevlugsentrum. Dit is die stilste son wat ons in byna ‘n eeu sien.
Luister later vanoggend na Amateur Radio Mirror International of besoek www.sarl.org.za vir meer inligting oor die afwesigheid van sonvlekke en ander veranderings in ruimteweerpatrone.


Die SARL se Presidentsnet sal vanaand, Sondag 5 April, beginnende om 19:30, op die lug wees. Rassie Erasmus sal terugrapporteer oor die strategiese Indaba van die Raad en ook oor die Nasionale Konvensie wat van 24 tot 26 April in die Kaap gehou gaan word. Volle besonderhede van die strategie vir 2009/2010 sal in die jaarverslag van die SARL, wat tydens die Algemene Jaarvergadering op Saterdag 16 April ter tafel gelê sal word, ingesluit word.
Een van die belangrike sake wat gedurende die Presidentsnet bespreek gaan word, is die voorgestelde verhoging in, en die struktuur van lisensiegelde. Uit die insette op die forum word afgelei dat amateurs sterk belangstelling toon in die voorstelle van OKOSA wat in die Staatskoerant van 16 Maart 2009 gepubliseer is.
Rassie Erasmus sal die Raad se mening tydens die net verduidelik en deelname aan die bespreking uitnooi. Let asb. daarop dat die besprekings binne die verwysingsraamwerk van die konsepregulasies moet wees. Volgende op die debat sal die SARL sy kommentaar aan OKOSA formuleer en ‘n versoek rig vir ‘n geleentheid om ‘n voorlegging tydens die openbare verhoor te maak.
‘n Kopie van die Staatskoerant met OKOSA se voorstel oor die verhogings is op die SARL se webwerf vir aflaai beskikbaar. Gaan na “publications”, klik op ARMI en volg die koppelings. Dit is ‘n PDF-leêr en beslaan ongeveer 3 megagrepe. Lees asb. die voorstel voor die net op Sondagaand sodat betekenisvolle bydraes gelewer kan word.


Gedurende die afgelope week het die hoofrolspelers van OKOSA die CRASA-vergadering in Zambië bygewoon. CRASA is die “Communications Regulators' Association of Southern Africa”. Dit is die skakelliggaam wat radio- en ander kommunikasieregulasies binne die SAOG-streek hanteer. In ‘n telefoongesprek met OKOSA is die SARL meegedeel dat die aangeleentheid van die uitbreiding aan die 7 MHz-band prioriteit geniet en dat die reguleerder se wetsafdeling die konsepregulasies onder oë het. By Maandag sal ons weet of die konsepveranderings tydens die weeklikse Raadsvergadering op Dinsdag ter tafel gelê sal word. Enige nuwe inligting sal op die SARL se webwerf bekend gemaak word.


AMSAT-DL het vroeë sukses behaal in hul poging om ‘n ruimtetuig na Mars te stuur. Vanaf die beheerstasie in Bochum is radioseine na Venus gestuur. Na aflegging van byna 100 miljoen kilometer en ‘n tydsverloop van ongeveer 5 minute, het seine as eggos van die oppervlakte van Venus teruggekom wat in Bochum ontvang is. Dit was die eerste Duitse sukses om eggos vanaf ander planete te ontvang. Lees die volledige storie op www.amsatsa.org.za.


Daar sal baie aktiwiteite by die SARL se Nasionale Amateurradiosentrum in Roodekop, Gauteng, ter viering van Wêreldamateurradiodag op Saterdag 18 April 2009 wees. Aktiwiteite sal om 10:00 begin met ‘n demonstrasie van ‘n vasgemaakte Bacar-sending. Bacar sal ‘n HF-bakensein op 7 022 kHz asook ‘n APRS-sein uitstuur. Die prototipe waterstofproduseerder, ter voorbereiding van Bacar se nooiensvlug in Junie, sal ook gedemonstreer word. Videos oor amateurradio sal heeloggend vertoon word en ZS6SRL sal op die lug wees.
Radioamateurs en kortgolfluisteraars word uitgenooi om vir die bakenseine te luister en vir ‘n kompetisie in te skryf waar ‘n 2008 ARRL-handboek een van die pryse is wat gewen kan word, meer inligting in volgende week se bulletin en op die webwerf.
Wat gaan u klub doen om Wêreldamateurradiodag op 18 April te vier? SARLNUUS wag angstig op inligting om in volgende week se bulletin in te sluit. Stuur besonderhede aan armi@sarl.org.za.


Die Hermanus Magnetiese Observatorium het verlede Donderdag ‘n splinternuwe ionosonde in gebruik geneem om voortplantings- en ionosferiese navorsing tot ‘n volgende vlak te neem. Die projek is in 2006 deur die Departement van Kommunikasie in samewerking met die Hermanus Magnetiese Observatorium en Rhodes Universiteit begin. Een van die doelwitte van die is die bevordering van navorsing in radiogolfvoortplanting en daardeur ‘n bydrae te lewer aan Suid-Afrika se deelname in die werk van die studiegroep op voortplanting binne die ITU. Die data wat deur die radiosonde verkry sal word, sal waardevol wees as ‘n bydrae tot die meer effektiewe gebruik van die radiospektrum deur HF-voorspellings te verbeter.
Die ingebruikneming is deur Rassie Erasmus, ZS1YT, bygewoon, waartydens hy ook van die geleentheid gebruik gemaak het om die instelling van ‘n koppeling van die Ruimteweersentrum met die SARL se webwerf te bespreek wat intydse inligting sal vertoon. Daaroor is ooreengekom. Dit sal egter nodig wees om van sekere IT-toetrede gebruik te maak en om toerusting by die NARS te installeer.


KOMPETISIENUUS


Die Herfs QRP-wedloop vind op Sondag 19 April vanaf 14:00 tot 16:00 SAT plaas. Dit is 'n GG- en foonkompetisie op die 40 meterband. Deelname kan wees as 'n draagbare of vaste stasie met kraguitset van 5 watt, 1 watt of 100 milliwatt. 'n RS- of RST-verslag en die jaartal van eerste lisensie word uitgeruil. Die reëls is beskikbaar in die SARL-Kompetisieboek by www.sarl.org.za.


Deelnemers aan die SARL-BHF/UHF-foonkompetisie, wat oor die naweek van 21/22 Maart plaasgevind het, word daaraan herinner dat logstste teen Saterdag 11 April, net een week van nou af, ingestuur moet wees. Logs kan elektronies gestuur word aan sarl.contest@peer.co.za of gepos word aan Posbus 11 198, Queenswood, 0121. Aangesien die posbus nie aan die SARL behoort nie kan geregistreerde stukke nie daarheen gestuur word nie. Inskrywings per pos moet ‘n frankeringsdatum van 11 April of vroeër dra om in aanmerking geneem te kan word.


KLUBNUUS

Die Transvaalse Voortrekkers bied die Thaba Veldwerk kamp aan van 3 - 9 April 2009 in die omgewing van Brits. Vir die Weerbaarheids kursus word ook Radio spraak as kenteken aangebied en gaan daar sowat 35 Graad 10 leerders betrokke wees by Radio spraak opleiding. Vir die doel, gaan die Voortrekkers in opleiding, van tyd tot tyd gebruik maak van 145.450MHz en 145.475MHz, onder die beheer en toesig van OK Gerhard Schultz, ZS3G/6.
Indien u in die omgewing is luister gerus na die twee frekwensies en gesels met die Voortrekkers.


Gedurende die maandelikse vergadering van Hamnet Wes-Kaap is besluit om die uitsendingstyd van die weeklikse radiobulletin wat op die herhaler op 145, 700 MHz in Kaapstad, en deur ZS1DDK op 3 760 kHz herlei word, na 19:30 te verskuif. Dit is gedoen sodat die herleiding op 80 m gehoor kan word voordat die band toemaak. Die 80 m-herleiding sal voorafgegaan word deur inroepe, wat om 19:00 sal begin, deur David, ZS1DDK, as netbeheerder. Alle belangstellende luisteraars is welkom en seinrapporte sal waardeer word. Die verandering kom op 8 April in werking.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die son se onvermoëe om nuwe sonvlekke te produseer het 'n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette wat van gestoorde sonvlektellings gebruik maak en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie! Die frekwensievoorspellingspakkette begin nou om optimistiese waardes te voorspel.
Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionsofeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het alreeds 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX met moontlike 15 m-openinge na Indië vanaf 13:00 SAT gevolg deur 20 m om 16:00. 17 m kan ook baie goeie resultate gedurende die middag na die Ooste toe oplewer. Kontakte met Nieu-Seeland gaan baie uitdagend wees. Om 08:00 is daar moontlike swak 20 m openinge na Australië. Kontakte met Peru is onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 14:00 tot 18:00 gewerk word en daarna op 20 m. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 15 m-openinge na Europa wat deur 20 m-openinge om 18:00 gevolg gaan word. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan slaap alhoewel goeie resultate nog voor middagete verkry kan word.
Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die geraasvlakke van statiese ontladings nog hoog wat dinge uitdagend kan maak.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.


DAGBOEK VAN GEBEURE

5 April – Presidentsnet, dit is vanaand om 19:30;
3 – 9 April - Transvaal Voortrekkers uit ‘n kamp naby Brits op die lug;
9 – 12 April – ZS3ARC aktief van Verneukpan;
18 April – Bacardemonstrasie by die NARS en ZS6SRL aktief ter viering van Wêreldamateurradiodag;
19 April - Herfs QRP-wedloop;
23 April – Laaste dag om vir die Mei-RAE in te skryf;
24-26 April – SARL se Nasionale Konvensie in Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003